Tweede Germaanse klankverskuiwing

Klankverskuiwinge in die Germaanse tale
Eerste Germaanse klankverskuiwing
Wet van Grimm
Wet van Verner
Tweede Germaanse klankverskuiwing
Ingveonismes

Die tweede Germaanse klankverskuiwing is 'n klankverskuiwing wat in die suidelike Germaanse tale (as gevolg hiervan ook bekend as die Hoogduitse klankverskuiwing) plaasgevind het. Die klankverskuiwing het waarskynlik tussen die 3de en 5de eeu begin, en was byna voltooi toe die eerste Duitse tekste in die 9de eeu op skrif gestel is. Die verskuiwing het nie in een beweging plaasgevind nie maar in verskillende fases oor verskillende eeue. Die taalverskuiwing het die skeiding tussen Hoogduits (wat weer bestaan uit Opperduits en Middelduits) en Nederduits te weeg gebring. Die lyn (isoglos) wat die Hoogduitse tale van die Nederduitse tale skei staan bekend as die Benrathlyn.

Die Benrathlyn is in werklikheid eintlik eerder 'n bundel verskillende isoglosse. Die verskillende Germaanse tale het almal in verskillende mate die tweede taalverskuiwing deurgemaak, en sommige klankverskuiwinge geld daarom vir byna alle Germaanse tale, en sommige slegs vir enkele. Hoe meer suidooswaarts in Europa die taal gepraat word, des te meer kenmerke van die tweede klankverskuiwing kom daar in die taal voor (Opperduits), en hoe meer noordweswaarts die taal gepraat word des te minder kenmerke van die tweede klankverskuiwing kom daar in die taal voor (Engels). Die meeste klankverskuiwinge, maar nie almal nie, maak deel uit van die huidige Standaardduits, terwyl in westelike Duitse dialekte veel minder klankverskuiwinge voorkom.

Other Languages