Prins Nikolaas Romanof

Prins Nikolaas Romanof
Titel Prins van Rusland [1]
Huis Holstein-Gottorp-Romanof
Eggenote Gravin Sveva della Gherardesca
Kinders Prinses Natalia Nikolajewna
Prinses Elizabeth Nikolajewna
Prinses Tatjana Nikolajewna
Gebore 26 September 1922
Oorlede 15 September 2014 (op 91)
Vader Prins Roman Petrowitsj
Moeder Gravin Praskowia Dmitrijewna Sjeremetjewa

Nikolaas Romanowitsj Romanof ( Russies: Николай Романович Романов; 26 September 1922 tot 15 September 2014) was ’n aanspraakmaker op die hoofskap van die Huis van Romanof [2] [3] en president van die Romanof-familievereniging. Hoewel hy ’n afstammeling van tsaar Nikolaas I van Rusland was, is sy aanspraak deur sommige lede van die familie betwis wat beweer sy ouers se huwelik was nie "gelyk" kragtens die Russiese Ryk se wette nie. [4] Hy word ook onder andere prins Nikolaas van Rusland, [5] [6] [7] [8] of prins Nikolai Romanof [9] [10] [11] genoem.

Vroeë lewe

Prins Nikolaas is naby Antibes, Frankryk, gebore as die oudste seun van prins Roman Petrowitsj van Rusland en sy vrou, prinses Praskowia Dmitrijewna (geb. gravin Sjeremetjewa). Hy het ’n jonger broer, Dmitri, gehad. Hul pa was die enigste seun van groothertog Pieter Nikolajewitsj en prinses Milica van Montenegro. Hul oupa was die seun van groothertog Nikolaas Nikolajewitsj (1831–1891), wat die seun was van keiser Nikolaas I van Rusland.

Prins Nikolaas het in Frankryk in ’n Russiese omgewing grootgeword met die gebruik van die Juliaanse kalender in die huis. Hy het sedert sy geboorte Russies en Frans gepraat. [2] Sy gesin het later na Italië verhuis vanweë die hoër vlak van onderwys. [12]

Hy het sy opvoeding in 1942 in Italië voltooi en het belanggestel in ’n vlootloopbaan, maar dit is die wiele gery deur sy bysiendheid. [2] Hy wou daarna ingenieurswese studeer, maar die Tweede Wêreldoorlog het dit verhinder. Ná die oorlog het hy as ’n burgerlike werk gekry by die Geallieerdes se afdeling vir sielkundige oorlogvoering en die Amerikaanse inligtingsdiens. Sy gesin het in 1946 in Egipte gaan woon [13] waar hy betrokke was by die koop en verkoop van Turkse tabak. Hy het ook by ’n versekeringsmaatskappy gewerk.

In 1954, ná die dood van sy swaer, het hy die bestuur van sy vrou se eiendom en besigheid in Toskane oorgeneem. In 1982 het hy na Switserland verhuis. [2] As vlugteling van geboorte af het Nikolaas nie burgerskap van ’n land gehad nie en het hy oorsee gereis met ’n brief wat deur die koning van Griekeland uitgereik is. In 1988 het hy eindelik ’n burger van Italië geword. [13] Prins Nikolaas het Rusland die eerste keer in Junie 1992 besoek saam met ’n groep sakelui. Hy het dikwels met die pers gepraat oor die Romanofs [2] en het in TV-dokumentêre verskyn. [14] In 1999 is ’n dokumentêr oor sy lewe gemaak deur die Russiese TV-kanaal NTV. [15]