Paul Signac

Paul Signac
Paul Signac, ca. 1883.jpg
Paul Signac, ca. 1893.
GeboortenaamPaul Victor Jules Signac
Gebore(1863-11-11)11 November 1863
Parys, Frankryk
Sterf15 Augustus 1935 (op 71)
Parys, Frankryk
NasionaliteitVlag van Frankryk Frankryk
VeldKunsskilder
BewegingPostimpressionisme, Neoimpressionisme, Pointillisme, Divisionisme

Paul Victor Jules Signac (Frans: [pɔl siɲak]; 11 November 186315 Augustus 1935) was 'n Franse Neo-Impressionistiese skilder wat in samewerking met Georges Seurat die Pointillistiese styl help ontwikkel het.

Biografie

Paul Signac, Portret van Félix Fénéon, 1890, olie op doek, 73.5 × 92.5 cm (28.9 × 36.4 in), Museum of Modern Art, New York
Georges Seurat Portret van Paul Signac, 1890, conté-kryt, privaatversameling
In the Time of Harmony. The Golden Age is not in the Past, it is in the Future, 1893–95, olie op doek, 310 x 410 cm (122 × 161.4 in), Mairie de Montreuil

Paul Signac is op 11 November 1863 in Parys gebore. Hy het opleiding in argitektuur ontvang voordat hy op 18 jaar besluit het om 'n loopbaan as skilder te volg nadat hy 'n uitstalling van Monet se werk bygewoon het. Hy het om die Europese kuslyn gevaar en die landskappe geskilder wat hy teëgekom het. Hy sou later ook 'n reeks waterverfskilderye van Franse hawestede verf.

In 1884 het hy Claude Monet en Georges Seurat ontmoet. Hy was getref deur Seurat se sistematiese metodes en kleurteorie, en met sy beskrywing van Neo-Impressionisme en die Divisionistiese metode het hy Seurat se lojale ondersteuner, vriend en opgevolger geword.[1] Onder Seurat se invloed het hy die kort kwashale van Impressionisme laat vaar om met wetenskaplike gejukstaponeerde spikkels suiwer kleur te eksperimenteer. Die bedoeling was om kleure nie op doek te meng nie, maar in die oog van die kyker, die definiërende kenmerk van Pointillisme. Baie van Signac se skilderye is van die Franse kus. Hy was lief daarvoor om water te verf. Hy het die hoofstad elke somer verlaat om in die suide van Frankryk in die dorpie Collioure of op St. Tropez te gaan bly waar hy 'n huis gekoop en sy vriende ontvang het.

Paul Signac, Albert Dubois-Pillet, Odilon Redon en Georges Seurat het onder die stigters van die Société des Artistes Indépendants getel. Die vereniging het op 29 Julie 1884 in Parys met die organisering van massiewe uitstallings begin, en hulle leuse was: "Geen beoordelaars of pryse nie" (Sans jury ni récompense). "Die doel van Société des Artistes Indépendants—gegrond op die beginsel van die afskaffing van 'n keurkomitee—was om kunstenaars die geleentheid te gun om hulle werk met volkome vryheid vir publieke beoordeling voor te lê."[2] Gedurende die volgende drie dekades sou hulle jaarlikse uitstallings die toon in die vroeë twintigste eeu se kunswêreld aangegee.

By die Salon des Indépendants van 1905 het Henri Matisse die proto-Fauve skildery, Luxe, Calme et Volupté uitgestal. Die Divisionistiese, helderkleurige skildery is in 1904 geskilder, ná 'n somer op St. Tropez aan die Franse Riviera waar Matisse saam met die Neo-Impressionistiese skilders Paul Signac en Henri-Edmond Cross gewerk het.[3] Dit is die belangrikste werk van Matisse waarin hy die Divisionistiese tegniek gebruik het, 'n styl wat hy aangeneem het nadat hy Seugnac se essay, d'Eugène Delacroix au Néo-Impressionnisme in 1898 gelees het.[4][5] Na afloop van die 1905 Salon des Indépendants het Seugnac die skildery gekoop. In 1908 is hy as voorsitter van die 24ste Salon des Indépendants verkies.[6]

In 1886 het Signac en Vincent van Gogh mekaar in Parys ontmoet. In 1887 het die twee kunstenaars gereeld saam na Asnières-sur-Seine gegaan waar hulle tonele soos rivierlandskappe en café's geskilder het. Aanvanklik het Van Gogh Signac se los skildertegniek bewonder. In Maart 1889 het Signac Van Gogh in Arles besoek. Die volgende jaar het hy 'n kort reis na Italië onderneem waar hy Genua, Florence, en Napels gesien het.

Signac het anargisme in 1888 ontdek nadat hy Elisee Reclus, Pjotr Kropotkin en Jean Grave se werke gelees het, drie skrywers wat die idees van anargistiese kommunisme ontwikkel het. Saam met sy vriende Angrand Cross, Maximilien Luce and Camille Pissarro het hy bydraes vir Jean Grave se koerant Les Temps Nouveaux (New Times) gemaak. Sy finansiële steun was beduidend; hy het gereeld tjeks gestuur en tussen 1895 en 1912 het hy werke vir vyf loterye geskenk.[7] Signac se 1893-skildery, In the Time of Harmony was oorspronklik In the Time of Anarchy, maar die politieke onderdrukking wat die anargiste op hierdie tydstip in Frankryk geteiken het, het hom forseer om die titel te verander voordat die werk deur 'n galery aanvaar sou word.[8]

Signac was lief vir seil en het in 1892 begin reis. Hy het met 'n klein bootjie na amper al die Franse hawens, Nederland, die Middellandse see tot by Konstantinopel gevaar, en telkens na St. Tropez teruggekeer. Seurat het lewendige, kleurvolle waterverfskilderye van sy omswerwinge af teruggebring wat hy haastig van die natuur geskets het. Hierdie sketse is dan as vertrekpunt gebruik om op groot ateljeedoeke te skilder wat noukeurig in klein, mosaïekagtige vierkante kleur verdeel is, heel anders as die klein, bont kolletjies wat voorheen deur Seurat gebruik is.

Signac self het met verskeie media geëksperimenteer. Buiten olie- en waterverskilderye het hy etse, litografiese afdrukke en verskeie pen-en-ink sketse gemaak wat uit klein, tydrowende kolletjies saamgestel is. Die Neo-Impressioniste het die volgende geslag beïnvloed: Signac het veral vir Henri Matisse en André Derain geïnspireer en sodoende 'n deurslaggewende rol in die evolusie van Fauvisme gespeel.

As voorsitter van die Société des Artistes Indépendants van 1908 tot met sy dood, het Signac jonger kunstenaars aangemoedig deur die kontroversiële werke van die Fauves en Kubiste uit te stal. Hy was onder ander die eerste persoon wat 'n Matisse-skildery gekoop het.

Signac het saam met Florence Meyer Blumenthal as beoordelaar opgetree in die toekenning van die Prix Blumenthal, 'n toelaag wat tussen 1919 en 1954 aan skilders, beeldhouers, versierders, graveerders, skrywers en musikante toegeken is.[9]

Other Languages
العربية: بول سينياك
беларуская: Поль Сіньяк
беларуская (тарашкевіца)‎: Поль Сыньяк
български: Пол Синяк
català: Paul Signac
čeština: Paul Signac
Deutsch: Paul Signac
Ελληνικά: Πωλ Σινιάκ
English: Paul Signac
Esperanto: Paul Signac
español: Paul Signac
euskara: Paul Signac
فارسی: پل سینیاک
français: Paul Signac
Gaeilge: Paul Signac
galego: Paul Signac
हिन्दी: पाल सिनाक
magyar: Paul Signac
Հայերեն: Պոլ Սինյակ
Bahasa Indonesia: Paul Signac
íslenska: Paul Signac
italiano: Paul Signac
한국어: 폴 시냐크
lietuvių: Paul Signac
Nederlands: Paul Signac
norsk nynorsk: Paul Signac
occitan: Paul Signac
polski: Paul Signac
Piemontèis: Paul Signac
پنجابی: پال سگنیک
português: Paul Signac
română: Paul Signac
русский: Синьяк, Поль
srpskohrvatski / српскохрватски: Paul Signac
Simple English: Paul Signac
српски / srpski: Пол Сињак
svenska: Paul Signac
Türkçe: Paul Signac
українська: Поль Сіньяк
Tiếng Việt: Paul Signac
Bân-lâm-gú: Paul Signac