Morganatiese huwelik

’n Morganatiese huwelik (Latyn: matrimonium morganaticum) was ’n huwelik in veral Europa en in die besonder Duitsland waar een van die huweliksmaats, gewoonlik die vrou, van ’n laer stand as die ander was. Dit is ook ’n "huwelik met die linkerhand" genoem omdat die bruidegom die bruid se hand met sy linkerhand vasgehou het in plaas van met sy regterhand.

Morganatiese huwelike het bestaan in lande waar vereis is dat koninklikes met maats van gelyke rang trou. Dit is dikwels aangegaan omdat ’n koninklike amptelike status wou verleen aan ’n verhouding met sy minnares of, in die geval van ’n regerende monarg wat reeds kinders by sy eerste, koninklike vrou het, om ’n tweede keer te trou met wie hy wou. Ook mense wat ’n baie klein kans gehad het om die troon te bestyg het sulke huwelike aangegaan.

Die Latynse term is afgelei van die Germaanse woord morgangeba ("môregeskenk" of "oggendgeskenk"). Dit is die geskenk wat die bruidegom die dag ná die huwelik aan sy bruid gegee het. Omdat die vrou en kinders van so ’n huwelik nie enige aanspraak op die man se titels, regte of besittings gehad het nie, was dié "geskenk" al wat hulle ná sy dood oorgehou het as finansiële steun.

Wettige gevolge

Morganatiese huwelike het nie al die wettige voordele van ’n gewone huwelik gehad nie, hoewel dit deur die staat en kerk erken is. Die kinders was wettig en het soms hoë status geniet. Hulle het egter die titel en regte van die ouer met die laagste rang gekry, dus meestal die ma. Hulle het gewoonlik niks geërf nie en was (indien van toepassing) uitgesluit van troonopvolging. Die ma het wel dikwels ’n hoër titel gekry as voor die troue.

Other Languages