Liza Minnelli

Liza Minnelli
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Minnelli in 1973.

GeboortenaamLiza May Minnelli
Geboorte12 Maart 1946 (1946-03-12) (72 jaar oud)
Aktiewe jare1959-tans

Liza May Minnelli (gebore op 12 Maart 1946) is ’n Amerikaanse aktrise en sangeres. Sy is veral bekend vir haar vertolking van Sally Bowles in die 1972-musiekprent Cabaret, waarvoor sy ’n Oscar vir beste aktrise gewen het. Sy is die dogter van die rolprentregisseur Vincente Minnelli en die aktrise en sangeres Judy Garland.

Loopbaan

’n Jong Liza in 1950 by haar ma, Judy Garland, op die stel van Summer Stock.
In haar spesiale konsert Liza with a Z, 1972.
Saam met Mikhail Baryshnikov in Baryshnikov on Broadway, 1980.

Sy het haar loopbaan in haar tienerjare begin as ’n musiekteater-aktrise en nagklubsangeres in New York. In 1965 het sy haar Broadway-debuut in die musiekspel Flora the Red Menace gemaak en het sy die Tony vir beste aktrise in ’n musiekspel gewen – op 19 was sy die jongste aktrise in Broadway se geskiedenis wat dit kon regkry. Sy het ook lof gekry vir haar dramatiese spel in die prent The Sterile Cuckoo (1969), maar dit is die musiekprent Cabaret (1972) wat haar beroemd gemaak het, asook die spesiale TV-program Liza with a Z (ook 1972), wat ’n Emmy gewen het.

Baie van haar daaropvolgende rolprentprojekte het kommersieel misluk en swak resensies gekry, tot met die 1981-komedie Arthur. Sy het in 1977 ook na die verhoog teruggekeer in die Broadway-musiekspel The Act. Sy het in die 1960's en 1970's popmusiek opgeneem.

Minnelli het gesukkel met dwelmmisbruik en was een van die eerste bekendes wat openlik oor dwelmrehabilitasie gepraat het. Van die laat 1970's af het sy gefokus op konserttoere en nagklubvertonings. Sy het onder meer in Oktober 1982 by Sun City in Suid-Afrika (destyds in Bophuthatswana) opgetree.[1] In 1979 en 1987 het sy lof gekry vir haar optredes in Carnegie Hall en in 1991 en 1992 in die Radio City Music Hall. Sy het ook die popalbum Results opgeneem wat deur die Pet Shop Boys vervaardig is.

Sy het harsingontsteking opgedoen en in 2002 ’n terugkeer gemaak met haar vertoning Liza's Back. Sy het ook van 2003 tot 2013 gasverskynings gemaak in die sitkom Arrested Development, terwyl sy steeds internasionaal getoer en in 2008/'09 Liza's at The Palace...! op Broadway opgevoer het.[2]

Minnelli word as ’n Amerikaanse en ’n gay ikoon beskou.[3][4] Sy het ’n Oscar, twee Golden Globes, ’n Emmy, twee Tonys, ’n Grammy-legendeprys en ’n spesiale Tony gewen, sowel as baie ander pryse.[5] Sy is in 2000 in die Amerikaanse teater-eresaal opgeneem.[6]

Other Languages
aragonés: Liza Minnelli
العربية: ليزا مينيلي
asturianu: Liza Minnelli
تۆرکجه: لایزا مینلی
беларуская: Лайза Мінелі
беларуская (тарашкевіца)‎: Лайза Мінэлі
български: Лайза Минели
bosanski: Liza Minnelli
català: Liza Minnelli
čeština: Liza Minnelli
Cymraeg: Liza Minnelli
Deutsch: Liza Minnelli
Ελληνικά: Λάιζα Μινέλι
English: Liza Minnelli
Esperanto: Liza Minnelli
español: Liza Minnelli
euskara: Liza Minnelli
français: Liza Minnelli
Gaeilge: Liza Minnelli
hrvatski: Liza Minnelli
Bahasa Indonesia: Liza Minnelli
Ilokano: Liza Minnelli
íslenska: Liza Minnelli
italiano: Liza Minnelli
latviešu: Laiza Minelli
Malagasy: Liza Minnelli
Bahasa Melayu: Liza Minnelli
Nederlands: Liza Minnelli
português: Liza Minnelli
Runa Simi: Liza Minnelli
română: Liza Minnelli
srpskohrvatski / српскохрватски: Liza Minnelli
Simple English: Liza Minnelli
slovenčina: Liza Minnelliová
српски / srpski: Лајза Минели
svenska: Liza Minnelli
ślůnski: Liza Minelli
Türkçe: Liza Minnelli
українська: Лайза Міннеллі
Tiếng Việt: Liza Minnelli
Winaray: Liza Minnelli
Yorùbá: Liza Minnelli