Konsul (Rome)

‘n Konsul was die hoogste verkose politieke amptenaar van die Romeinse Republiek.

Elke jaar, is twee konsuls saam verkies, om ‘n eenjaartermyn te dien. Aan elke konsul is ‘n vetoreg oor sy kollega toegeken, en die twee amptenare het mekaar maandeliks afgewissel. Die konsuls sou egter na die vestiging van die Ryk, slegs nominale verteenwoordigers van Rome se republikeinse erfenis word, en sou baie min mag en gesag oorhou, met die keiser wat oppergesag gehandhaaf het.

Geskiedenis

Onder die Republiek

Ná die legendariese omverwerping van die laaste Etruskerkoning Lucius Tarquinius Superbus en die beëindiging van die Romeinse Koninkryk, is meeste van die bevoegdhede en gesag van die koning oënskynlik na die nuut-ingestelde konsulskap oorgedra. Oorspronklik is die konsuls praetors (of "leiers") genoem, verwysend na hul pligte as die leidende militêre aanvoerders. In 305 v.C. is die naam van die amp egter verander na konsul; in Latyn beteken consulere naamlik "om te konsulteer". Die Romeine het geglo dat die konsulamp na die tradisionele stigting van die Republiek in 509 v.C. terugdateer kon word, maar in werklikheid was daar in die 5de eeu v.C. nie ‘n deurlopende opeenvolging van konsuls nie. Konsuls het uitgebreide bevoegdhede gehad in vredestyd (administratief, wetgewend en regsprekend), en was in oorlogstyd dikwels die hoogste militêre aanvoerders. Hul bykomende godsdienstige pligte het sekere regte ingesluit, wat as aanduiding van hul formele belang, slegs deur die hoogste staatsamptenare uitgevoer kon word. Konsuls moes ook met wiggelary bedrewe wees, ‘n vereiste gebruik voordat weermagte te velde aangevoer kon word.

Elke jaar is twee konsuls verkies wat saam opgetree het, elk met ‘n vetoreg oor die ander se aksies, ‘n gewone magistraatsmaatreël. Vermoedelik was oorspronklik slegs patrisiërs vir die konsulskap verkiesbaar. Konsuls is verkies deur die Comitia Centuriata, waarvan die stemsamestelling sedert hul stigting ‘n aristokratiese vooroordeel bevat het, wat met verloop van jare toegeneem het. [verwysing benodig] Nietemin het hulle net formeel hul magte aanvaar ná die ratifisering van hul verkiesing in die ouer Comitia Curiata, wat konsuls hul imperium gegun het deur die uitvoering van ‘n wet, die " lex curiata de imperio".

Tradisie sou dit hê dat die konsulskap aanvanklik net vir die patrisiaat beskore was, en dat die plebejers eers in 367 v.C. die reg sou verkry om vir die hoogste amp te staan, toe die Lex Licinia Sextia bepaal het dat minstens een konsul in elke jaar 'n plebejer moes wees. Die eerste plebejerse konsul, Lucius Sextius, is sodoende in die volgende jaar verkies. Moderne historici het die tradisionele verslag van plebejerse emansipasie tydens die vroeë Republiek egter bevraagteken (sien Konflik van die Ordes), deur byvoorbeeld op te merk dat sowat dertig persent van die konsuls wat Sextius voorafgegaan het, plebejerse eerder as patrisiërname gehad het. Moontlik is die oorgelewerde kronologie onakkuraat, maar dit wil tog voorkom of een van die eerste konsuls, Lucius Junius Brutus, van ‘n plebejerse familie afkomstig was. [1] ‘n Verdere moontlikheid is dat tydens die 5de-eeuse sosiale omwentelinge, die amp van konsul mettertyd deur ‘n patrisiër-elite gemonopoliseer is. [2]

In oorlogstyd was militêre aanleg en reputasie die vernaamste bevoegdhede vir konsulskap, maar te alle tye was die keuse polities gelaai. Met verloop van tyd het die konsulskap die ooglopende einddoel geword van die cursus honorum, die voorgehoue opeenvolging van ampte vir die ambisieuse Romein. Na Sulla die cursus wetlik gestruktureer het, was die minimum ouderdom vir konsulbenoeming effektief 41 jaar.

Beginnend by die laat-Republiek, het ‘n (voormalige) konsul na voltooiing van sy konsulêre jaar, gewoonlik ‘n lonende termyn vervul as prokonsul, die Romeinse goewerneur van een van die (senatoriale) provinsies. Die mees algemeengekose provinsie vir die prokonsulskap was Cisalpynse Gallië.

Consul suffectus (vervangingskonsul)

As ‘n konsul tydens sy termyn oorlede is (nie buitengewoon vir konsuls aan die gevegsfronte nie), of van sy amp onthef is, sou ‘n ander verkies word om die oorblywende termyn te voltooi as consul suffectus, of vervangingskonsul.

Toe Augustus die Prinsipaat tot stand gebring het, het hy die politieke aard van die konsulaat verander, deur dit van meeste militêre gesag te ontdaan. Alhoewel steeds ‘n groot eer — inderdaad die konstitusionele staatshoof, en gevolglik eponiem — en ‘n voorvereiste vir ander ampte, sou vele konsuls tydens die jaar bedank sodat ander manne hul termyn as suffekte kon voltooi. Dié wat die amp op 1 Januarie beklee het, bekend as die consules ordinarii (enkelvoud, consul ordinarius), het die eer gehad om hul name met daardie jaar te vereenselwig. Gevolglik, weens die aantal posontruimings, sou omtrent die helfte van die mans in die rang van praetor, ook die konsulskap behaal. Soms sou ook die vervangingskonsul bedank, en ‘n tweede vervangingskulsul sou aangestel word. Hierdie praktyk het onder Commodus hoogty gevier, toe in die jaar 190 n.C., vyf-en-twintig mans die konsulskap beklee het.

Tydens die Ryk

Flavius Anastasius Paulus Probus Sabinianus Pompeius (konsul 517 n.C.) in konsulêre kledy, met septer en die mappa, ‘n doek vir die afsit van ‘n perdewaresies by die perderenbaan. Ivoorpaneel van sy konsulêre diptiek.

Keisers het dikwels hulself, hul mentors of familieverwante aangestel as konsuls, selfs sonder aansiens van die ouderdomsvereistes. Byvoorbeeld is keiser Honorius die konsulskap by geboorte toegeken. Cassius Dio meld dat Caligula beoog het om sy perd Incitatus konsul te maak, maar hy is om die lewe gebring voor hy dit kon uitvoer.

Aanvaarding van die konsulskap was ‘n groot eer en die amp was die toonbeeld van die steeds republikeinse konstitusie. In ‘n blykbare poging om hul formele legitimiteit aan te dui, het die afgesplinterde Galliese Ryk in hul bestaanstyd hul eie konsulpare aangewys (260–274 n.C.). Die lys van konsuls van hierdie staat is egter onvolledig, en berus op inskripsies en munte.

Een van die hervorminge van Konstantyn I (regeer 306–337 n.C.) was om een van die konsuls aan die stad Rome toe te wys, en die ánder aan Konstantinopel. Daarom het, toe die Romeinse Ryk met die dood van Theodosius I (regeer 379–395) in twee helftes verdeel is, die keiser van elke helfte die reg verkry om een van die konsuls aan te stel—alhoewel een keiser tog sy kollega om verskillende redes vergun het om beide konsuls aan te stel. Die konsulskap, ontdaan van enige werklike mag, was steeds ‘n groot eer, maar die gebruiklike vieringe – bowenal die perdewaresies – het uiteindelik aansienlike uitgawes meegebring, wat slegs binne enkele burgers se vermoë was, dermate dat die uitgawes deels deur die staat befonds moes word. [3] In die 6de eeu is die konsulskap toenemend spaarsamig toegeken, totdat dit onder Justinianus I (regeer 527–565) vakant gelaat is: die westelike konsulskap het is in 534 n.C. afgeskaf, met Decius Paulinus as die laaste ampsbekleër, en die konsulskap van die Ooste in 541 n.C., met Anicius Faustus Albinus Basilius. Konsulêre datering is reeds mee weggedoen in 537 n.C., toe Justinianus datering volgens keiserlike bewindsjaar ingevoer het, benewens die 15-jaar indiksie. [4] Die benoeming tot konsulskap het deel van die rite van uitroeping van ‘n nuwe keiser geword vanaf Justinianus II (regeer 565–578), en word die laaste keer betuig deur die proklamasie van die toekomstige Konstans II (regeer 641–668 n.C.) as konsul in 632 n.C.. [5] Die amp het de jure oorleef tot die vroeë 9de eeu, toe Keiser Leo die Wyse (regeer 886–912 n.C.) dit finaal opgehef het met Novel 94. Teen daardie tyd is die Griekse titels vir konsul en ekskonsul, naamlik " hypatos" en " apo hypaton", getransformeer na betreklik beskeie eerbetonings. [6]

Nietemin is die titel van Romeinse konsul deur die Pous aan Karel Martel voorgehou in 739 n.C., wat dit egter geweier het. [7]

Other Languages
Alemannisch: Consulat
asturianu: Cónsul romanu
azərbaycanca: Konsul (Qədim Roma)
brezhoneg: Konsul
bosanski: Konzul
català: Cònsol romà
čeština: Římský konzul
dansk: Consul
Deutsch: Consulat
English: Roman consul
español: Cónsul romano
فارسی: کنسول روم
Frysk: Konsul
hrvatski: Rimski konzul
magyar: Consul
Հայերեն: Կոնսուլ
interlingua: Consule
Bahasa Indonesia: Konsul Romawi
Ido: Konsulo
日本語: 執政官
ქართული: კონსული
한국어: 집정관
Kurdî: Konsul
Latina: Consul
lietuvių: Konsulas (Roma)
latviešu: Konsuls (Roma)
македонски: Римски конзул
Bahasa Melayu: Tribun konsul
Plattdüütsch: Kunsel (Rom)
Nederlands: Consul (Rome)
norsk nynorsk: Romersk konsul
română: Consul
srpskohrvatski / српскохрватски: Konzul
Simple English: Roman consul
slovenščina: Rimski konzul
српски / srpski: Конзул (магистрат)
svenska: Konsul (Rom)
Tagalog: Konsulado
Türkçe: Konsül (Roma)
татарча/tatarça: Konsul
oʻzbekcha/ўзбекча: Konsul
Tiếng Việt: Quan chấp chính