Henry Miller

Henry Miller, 1940

Die Amerikaanse skrywer Henry Valentine Miller (26 Desember, 1891 – 7 Junie, 1980) behoort tot die bekendste verteenwoordigers van die beweging in die moderne letterkunde wat veral teen die Amerikaanse lewenstyl gemik is.

Henry Miller is op 26 Desember 1891 in New York gebore, waar hy in die buurt Brooklyn grootgeword het. Nadat hy verskeie los werkies gedoen het, het hy in 1924 besluit om hom geheel en al aan die skryfkuns te wy. Tussen 1930 en 1939 het hy hoofsaaklik in Frankryk, veral Parys, gewoon. Hier het hy die Amerikaans-Kubaanse skryfster Anaïs Nin ontmoet, wat Veral om haar dagboeke bekend geword het. Hy het Tropic of Cancer, die roman wat sy naam sou vestig, in Parys geskryf. In 1939 het hy op uitnodiging van die Engelse skrywer Lawrence DurrelI na Griekeland gegaan, maar in 1944 het hy hom in Big Sur, 'n verlate streek in Kalifornië, gevestig.

Miller se eerste gepubliseerde werk, Tropic of Cancer (1934), is kenmerkend van al sy werke: deels roman, deels outobiografie en deurspek met essayistiese gedeeltes. Benewens die beskrywing van sy jare in Parys, waar hy in armoede geleef het, gee hy in dikwels uitbundige prosa 'n skerp en kritiese beeld van seksuele verhoudings weer. Soos van sy ander werke, is dié roman telkens deur sensuurbeheer verbied en dit kon eers in 1961 in die VSA uitgegee word. Die seksuele is in Miller se werk egter funksioneel, omdat hy daarmee wil beklemtoon dat seksualiteit sonder gevoel 'n hol en onwaardige aktiwiteit is wat die sinloosheid van die menslike bestaan onderstreep.

Tropic of Cancer is gevolg deur Black spring (1936) en deur Tropic of Capricorn (1939), wat in die VSA afspeel. Miller se ervarings in Griekeland en sy vertolking van die Middellandse kultuur is in die boeiende reisverhaal The Colossus of Maroussi (1941) opgeteken.

Kort nadat hy na die VSA teruggekeer het, het hy die land deurreis en verslag van sy reis gelewer in die beklemmende The Air-Conditioned Nightmare (1945). Hierna het die trilogie bekend as The Rosy Crucifixion, wat bestaan uit Sexus (1945), Plexus (1949) en Nexus (1960), verskyn.

Miller was 'n baie produktiewe skrywer. Sy uitgebreide briefwisseling is saamgevat in Art and Outrage (1959), Lawrence DurelI and Henry Miller: a Private Correspondence (1963) en Letters to Anaïs Nin (1965). Sy gewildste kortverhale is gebundel in Nights of Love and Laughter (1955) en sy vernaamste essays in die belangrike Stand Still Like the Hummingbird (1962). Interessant is verder nog The Michael Fraenkel-Henry Miller Correspondence Called Hamlet (1939), The World of Sex (1940) en Rimbaud (1952), wat in 1956 verwerk en opnuut uitgegee is as Time of the Assassins. In 1972 het 'n feitelike outobiografie, My Life and Times, verskyn.

In sy afkeer van en verset teen die moderne verbruikersgemeenskap toon Miller se werk verwantskap met dié van die skrywers van die Beat Generation uit die vyftigerjare. Behalwe skrywer was Miller ook 'n Talentvolle waterverskilder.

Hy was 88 jaar oud toe hy op 7 Junie in sy huis in Pacific Palisades oorlede is. Hy is veras en sy as is tussen sy seun Tony en dogter Val verdeel.[1]

Bronnelys

Wêreldspektrum, Vol. 19, 78-79, ISBN 0908409605

Other Languages
Alemannisch: Henry Miller
العربية: هنري ميلر
asturianu: Henry Miller
تۆرکجه: هنری میلر
беларуская: Генры Мілер
български: Хенри Милър
brezhoneg: Henry Miller
català: Henry Miller
čeština: Henry Miller
Deutsch: Henry Miller
Ελληνικά: Χένρυ Μίλλερ
English: Henry Miller
español: Henry Miller
euskara: Henry Miller
فارسی: هنری میلر
français: Henry Miller
Gaeilge: Henry Miller
galego: Henry Miller
עברית: הנרי מילר
hrvatski: Henry Miller
magyar: Henry Miller
հայերեն: Հենրի Միլլեր
Bahasa Indonesia: Henry Miller
italiano: Henry Miller
Basa Jawa: Henry Miller
한국어: 헨리 밀러
Lëtzebuergesch: Henry Miller
lietuvių: Henry Miller
latviešu: Henrijs Millers
Malagasy: Henry Miller
македонски: Хенри Милер
Nederlands: Henry Miller
polski: Henry Miller
português: Henry Miller
română: Henry Miller
русский: Миллер, Генри
sicilianu: Henry Miller
srpskohrvatski / српскохрватски: Henry Miller
Simple English: Henry Miller
slovenčina: Henry Miller
slovenščina: Henry Miller
српски / srpski: Хенри Милер
svenska: Henry Miller
Türkçe: Henry Miller
українська: Генрі Міллер
Tiếng Việt: Henry Miller
Winaray: Henry Miller