Heilige Romeinse Ryk

Sacrum Romanum Imperium (la)
Heiliges Römisches Reich (de)
Sacro Romano Impero (it)
Svatá říše Římská (cs)
Sveto rimsko cesarstvo (sl)

Heilige Romeinse Ryk
962 – 1806
VlagWapenskild
VlagWapen
Volkslied: (geen amptelike)
Gott erhalte Franz den Kaiser (Keiserlike volkslied van 1797)
(Duits vir: "God bewaar Keiser Frans")
Ligging of Heilige Romeinse Ryk
Die strekking van die Heilige Romeinse Ryk in ongeveer 1600, oorgelê op die moderne Europese staatsgrense
HoofstadGeen, setel van die Reichstag Regensburg (1594-1806)
Taal/TaleLatyn, Duits, Italiaans, Tsjeggies, Nederlands, Frans, en verskeie ander
GodsdiensRooms-Katolieke Kerk, Protestantisme, Calvinisme
RegeringMonargie
Keiser
 - 9621002Otto I, II en III
 - 10141125Hendrik II, Conrad II, Hendrik III, IV en V
 - 11331313Lothar III, Frederik I, Hendrik VI, Otto IV, Frederik II, Hendrik VII
 - 13281519Lodewyk IV, Karel IV, Sigismund, Frederik III, Maximiliaan I
 - 15301576Karel V, Ferdinand I, Maximiliaan II
 - 15761657Rudolf II, Matthias, Ferdinand II en III
 - 16581745Leopold I, Josef I, Karel VI en VII
 - 17451806Frans I, Josef II, Leopold II, Frans II
WetgewerReichstag
Historiese tydperkMiddeleeue
 - Otto I gekroon as Keiser van Italië2 Februarie 962
 - Konrad II neem die kroon van Boergondië aan2 Februarie 1033
 - Vrede van Augsburg25 September 1555
 - Vrede van Wesfale24 Oktober 1648
 - Abdikasie van Frans II6 Augustus 1806
 - Rynbond gevorm12 Julie 1806
Voorafgegaan deur
Opgevolg deur
Karl der Große 800.jpgMiddel-Francia
Ludwig der Deutsche.jpgOos-Francia
SwitserlandFlag of Switzerland.svg
Republiek van die Sewe Verenigde NederlandePrinsenvlag.svg
RynbondFlag of None.svg
Keiserryk OostenrykFlag of the Habsburg Monarchy.svg
Eerste Franse RykFlag of France.svg

Die Heilige Romeinse Ryk was die magsgebied van die Romeins-Duitse keisers van die Middeleeue tot 1806.

Ná die afsterwe van Lodewyk die Vrome is die Frankiese Ryk in drie dele verdeel:

  • die Wes-Frankiese Ryk, die historiese voorloper van die huidige Frankryk,
  • Lotaringe, 'n koninryk, wat van die Noordsee tot by Rome gestrek, maar uiteindelik verdwyn het, en
  • die Oos-Frankiese Ryk, net soos Lotaringe 'n uitgestrekte ryk in die hart van Europa.

Die Heilige Romeinse Ryk is vanaf die 10de eeu onder die heerskappy van die Ottone-dinastie uit die voormalige Karolingiese Oos-Frankiese Ryk gevorm. Die Oos-Frankiese koning het na homself as die rex Francorum orientalium verwys - "koning van die Oos-Franke" - en was in feite die heerser oor 'n ryk met 'n verskeidenheid opstandige stamme.

Die term Romanum Imperium (Latyns "Romeinse Ryk") was eers vanaf 1034 gebruiklik, Sacrum Imperium ("Heilige Ryk") vanaf 1157, terwyl die titel Sacrum Romanum Imperium vir die eerste keer in 1254 in 'n historiese dokument gebruik is.

Vanaf die 15de eeu is ook die bynaam "van die Duitse Nasie" (Nationis Germaniae) gebruik om spesifiek na die Duitssprekende gebiede van die ryk te verwys, en die bewoners het geleidelik 'n soort kulturele gemeenskapsgevoel ontwikkel. Die term "Duitse Nasie" verwys daarnaas ook na die Duitse herkoms en moedertaal van alle Romeinse keisers vanaf 962 (toe Otto I die kroon van die ryk verwerf het) tot die einde van die Heilige Romeinse Ryk in 1806. Geskiedkundiges verwys na die Heilige Romeinse Ryk soms ook as die Ou Ryk, ter onderskeiding van die Duitse Ryk, wat in 1871 gestig is.

Vanweë sy supranasionale karakter het die ryk nooit tot 'n nasionale staat in die moderne sin ontwikkel nie, maar het dit steeds 'n soort monargiese raamwerk vir die groot aantal onafhanklike Duitse state gebly. Behalwe vir die keiser en die ryksstande was daar ook min gemeenskaplike instellings.

Danksy sy swak strukture was die Heilige Romeinse Ryk ná die Middeleeue ook nie meer in staat om 'n oorlog te voer of sy magsgebied uit te brei nie. Die ryk se bevoegdhede was in die algemeen beperk tot gebiede soos die regssekerheid en die bewaring van vrede. Die ryk het sorg gedra vir politieke stabiliteit en die vreedsame beslegting van konflikte deur die magsdinamiek binne perke te hou: dit het die onderdane beskerm teen willekeurige magsmisbruik van plaaslike heersers en kleiner ryksstande teen regsverkragting deur die magtige ryksstande en die keiser.

Ná die Vredesluiting van Münster (Wesfalen) in 1648 was ook die buurlande as ryksstande 'n deel van die bedeling. Die Heilige Romeinse Ryk het sodoende ook 'n rol gespeel by die bewaring van vrede binne die Europese konstellasie van state.

Sedert die middel van die 18de eeu was die ryk nogtans te swak om sy deelstate teen die magsuitbreiding van interne en eksterne magte te beskerm. Sy politieke onmag was uiteindelik ook een van die redes vir sy agteruitgang. Napoléon Bonaparte se verowerings en die stigting van die Rynbond het die ryk byna heeltemal verlam. Nadat keiser Frans II op 6 Augustus 1806 afstand van die rykskroon gedoen het, is die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie uiteindelik ontbind.

Duitse koningskap en Romeinse keiserdom

Koningskap en keiserdom is in die Duitse Ryk steeds as twee verskillende konsepte van wêreldlike mag beskou. Gedurende die Middeleeue is die Duitse koning deur die hoë adel, biskoppe en hertoë (eers later ook deur die keurvorste) verkies, maar nie die keiser nie. Die keiserdom was in politieke opsig selfs 'n fiksie, gebore uit die oortuiging dat daar ook ná die ontbinding van die Romeinse Ryk 'n gemeenskaplike Westers-Christelike beskawing sou bestaan.

Volgens hierdie idee is die heerskappy (Latyns: imperium) oor die ryk vir die eerste keer deur keiser Konstantyn vanuit die weste na Griekeland oorgedra. Met die kroning van Karel die Grote het die pous die imperium later aan die Franke oorgedra, en uiteindelik is dit aan die Romeinse koning Otto I gegee wat eweneens deur die pous gekroon is. Die translatio imperii of oordrag van die ryksheerskappy was 'n uitsluitlike voorreg van die pous.

Pous en keiser was dit eens oor die posisie wat hulle in die Middeleeuse wêreld beklee het - hulle het die twee swaarde gedra wat deur Christus aan hulle verleen is, die geestelike en die wêreldlike - en hulle was net aan God verantwoordelik. Nogtans het soms konflikte uit die pous se besondere beklemtoning van die geestelike mag voortgespruit: indien hulle mag regstreeks deur God verleen was, sou die pous as sy verteenwoordiger op aarde voorkeur oor die wêreldlike keiser moet geniet. Daarenteen het die keiser met nadruk op die besondere rol van sy mag binne die tydelik-wêreldlike sfeer verwys - 'n mag waaraan immers ook die pous se wêreldlike gesag en die Kerkstaat onderworpe was.

Nadat geskille tussen pous en keiserdom begin verskerp het, het die twee heersers na mekaar as leenhere en vasalle verwys. Gelyktydig het albei pogings onderneem om hulself ook as die leenhere van alle Christelike Europese koninkryke te vestig.[1]

Keiser en Ryk in 'n 16de eeuse afbeelding. Keiser Ferdinand III is in die middel uitgebeeld as die "hoof" van die Ryk en omring deur die Keurvorste. By die voete van die keiser sit 'n vrou, wat as 'n allegorie van die Ryk uitgebeeld is (let op die ryksappel). Sy is omring met vrugte, wat die hoop op voorspoed ná die ramp van die Dertigjarige Oorlog versinnebeeld. Kopergravure, Teutschlands fröhliches zuruffen/zu glückseliger Fortsetztung/der mit Gott/in regensburg angestellten allgemeinen Versammlung des H.Röm. Reiches obersten Haubtes und Gliedern deur Abraham Aubry, Neurenberg 1663/64
Other Languages
беларуская (тарашкевіца)‎: Сьвятая Рымская імпэрыя
Nordfriisk: Hilag Röömsk Rik
客家語/Hak-kâ-ngî: Sṳ̀n-sṳn Lò-mâ Ti-koet
interlingua: Sacre Imperio Roman
Bahasa Indonesia: Kekaisaran Romawi Suci
Lingua Franca Nova: Impero Roman Santa
Bahasa Melayu: Empayar Suci Rom
Nedersaksies: Heilige Roomse Riek
Piemontèis: Imperi Roman Sacrà
srpskohrvatski / српскохрватски: Sveto Rimsko Carstvo
Simple English: Holy Roman Empire
slovenščina: Sveto rimsko cesarstvo
татарча/tatarça: İzge Rim imperiäse
oʻzbekcha/ўзбекча: Muqaddas Rim imperiyasi
West-Vlams: Illig Rôoms Ryk