Gian Lorenzo Bernini

Gian Lorenzo Bernini (7 Desember 1598 – 28 November 1680) was een van die eerste asook die vemaamste verteenwoordigers van die Barok, 'n styl wat aan die einde van die 16e eeu in Rome ontstaan het en die Europese kuns tot omstreeks 1750 gedomineer het. As argitek, beeldhou, skilder en dekorontwerper was hy gedurende sy lewe hoofsaaklik in opdrag van die pouse in Rome werksaam.

Gian Lorenzo Bernini, selfportret

Gian Lorenzo Bernini is op 7 Desember 1598 in Napels gebore. Sy vader, Pietro Bernini (1562-1629), wat ook sy eerste leermeester was, het in 1605 na Rome verhuis, waar Bernini tot met sy dood gebly het. Sy vader het hom ook in aanraking met die kardinaal Scipione Borghese gebring, van wie hy sy eerste opdrag ontvang het. Die opdrag het 'n groep marmerbeelde behels waaraan hy van 1615 tot 1623 gewerk het. In dié groep beelde het Bernini hom aanvanklik aangesluit by die sestiende-eeuse styl van Michelangelo en Giovanni da Bologna, maar geleidelik het hy sy eie styl ontwikkel.

Van die werke, wat vandag nog in die Galleria Borghese in Rome bewaar word, kan veral die beeld van Dawid (1623) as 'n belangrike monument in die ontwikkeling van die beeldhoukuns beskou word. 'n Volkome nuwe element is Bernini se vermoë om die toeskouers as 't ware aktief by die handeling te betrek: Deur Dawid se houding word die teenwoordigheid van Goliat gesuggereer.

Omstreeks 1585 het die pouse met 'n kampanje begin om Rome die mooiste stad in die Christelike wêreld te maak. Die kunste het hierin 'n groot rol gespeel en danksy Urbanus VIII (1623-1644), Innocentius X (1644-1655) en Alexander VII (1655-1667) was Bernini sy lewe lank van groot opdragte verseker. Sy geboue, beeldhouwerke en skilderye getuig vandag nog van sy veelsydige kunstenaarskap. Verder het hy ook antieke geboue en beelde gerestoureer, kostuums en dekorstelle vir die teater ontwerp asook groot vuurwerkvertonings beplan. Bernini se grootste belang lê egter in sy strewe om die grense van die verskillende kunssoorte te ignoreer en dit alles in diens te stel van één argitektoniese opvatting. Voorbeelde van sulke ensembles is die Cornaro-kapel in Rome (1644-1652), die kateder van Petrus in die apsis van die St. Pieterskerk (1657-1666), die interieur van die Santa Andrea al Quirinale in Rome (1655-1678) en die Scala Regia in die Vatikaan (1663-1666). Bernini se werk is ook deur die Teenhervorming en die mag van die pousdom beïnvloed. So is die Tritonfontein in Rome (1642-1643) nie net 'n tipiese voorbeeld van 'n Barokstraatversiering nie, maar ook die simbool van pouslike heerskappy onder Goddelike leiding.

As argitek was sy grootste werk die Piazza (publieke binneplein in middel van Iataliaanse dorp) van die St. Pieterskerk. Dit moes so groot moontlik wees om die reuse-skare te huisves wat tydens besondere kerklike geleenthede byeenkom om na die Pous te luister. Die Pous het vanaf die balkon bo die sentrale ingang van die kerk 'n boodskap gelewer en die seën uitgespreek. Die aanloop na die kerk moes so mooi moontlik wees, en dit moes tred hou met die grootte en belangrikheid van die kerk self. Die mense wat aan die groot optogte deelneem, moes teen die wind en weer beskut word.

Bernini het die probleme opgelos deur 'n groot, ovaalvormige piazza of plein, omring deur pilaargange, te bou. Die suile wat, wat vier diep staan, gee 'n mens die indruk van reusekrag en massa.

  • bronnelys

Bronnelys

Other Languages
беларуская (тарашкевіца)‎: Джаваньні Лярэнца Бэрніні
Bahasa Indonesia: Gian Lorenzo Bernini
Livvinkarjala: Gian Lorenzo Bernini
srpskohrvatski / српскохрватски: Gian Lorenzo Bernini
Simple English: Gian Lorenzo Bernini
slovenščina: Gian Lorenzo Bernini
українська: Лоренцо Берніні
oʻzbekcha/ўзбекча: Bernini Jovanni Lorenso
Tiếng Việt: Gian Lorenzo Bernini