Geskiedenis van die Britse Ryk en Statebond

Die Britse Ryk in 1897.

Gedurende die negentiende eeu het verskeie bewegings die politieke samestelling van Brittanje en die state van Wes-Europa heeltemal verander. As gevolg van die ontwikkeling van selfbestuur het die gewone volk 'n rol in die regering van hul land begin speel. Magtige nasionale state is gevorm, namate mense wat deur dieselfde kulturele en politieke bande verbonde was, staatkundige eenheid verwerf het. Gedurende dieselfde tydperk was daar soortgelyke bewegings binne die Britse Ryk, veral in daardie dele waar talryke blanke gemeenskappe hulle gevestig het. Een van dié bewegings het op die ontwikkeling van volledige selfregering in die groter kolonies uitgeloop, waardeur hulle bevry is van inmenging in hul huishoudelike sake deur die Kroon. 'n Ander beweging het die federasie van uitgestrekte gebiede in enkele staatkundige eenhede wat as Vrygeweste erken is, tot gevolg gehad. Hierdie Vrygeweste het uiteindelik konstitusionele gelykheid met Brittanje verlang, en ontwikkel tot die status van soewereine volke wat tesame die Britse Gemenebes van Nasies vorm.

Die Omvang van die Britse Ryk omstreeks 1815

Britse Oppermag in Amerika en Indië

Gedurende die agttiende eeu het Brittanje se oorsese besittings en handel uitgebrei. Tydens die handelsoorloë wat hy teen Frankryk, Nederland en Spanje gevoer het, het hy die oppermag op see verwerf en sy mededingers verslaan en sodoende die politieke beheer in Indië, Noord-Amerika en die Wes-Indiese Eilande in die hande gekry. Ondanks die feit dat Brittanje die Dertien Kolonies verloor het, toe hulle hul onafhanklikheid verwerf het (1783), was hy aan die einde van die eeu nog die belangrikste koloniale moondheid in Europa.

Die Verwerwing van Strategiese Basisse

Botany Bay, 'n waterverfskildery van 1788 deur Charles Gore.

Dit was Brittanje veral te doen om sy oorsese ryk met sy waardevolle handel teen vyandelike aanvalle te beveilig. Hy het hierdie doel as gevolg van die Napoleontiese oorloë bereik. Verseker van sy onbetwiste oppermag op see ná die oorwinning by Trafalgar (1805), het Britse magte die meeste van die kolonies van Frankryk, Holland en Spanje vóór die neerlaag van Napoleon by Waterloo beset. Na die beëindiging van die Napoleontiese oorloë (1814) het Brittanje aanspraak gemaak op dié strategiese besittings wat hy tydens die vyandelikhede beset het, ten einde sy handelsroetes en kolonies in die Nuwe Wêreld en die Ooste te beveilig. Die Kaap en Ceylon moes deur Nederland, en Mauritius deur Frankryk aan hom afgestaan word ten einde sy seemag in die Suid-Atlantiese en Indiese Oseaan vir die beskerming van sy belange in Indië en Australië te konsolideer. Deurdat hy Malta behou het en sy invloed in die Ioniese Eilande erken is, het Brittanje sy posisie in die Middellandse See versterk. Deur die verkryging van die Spaanse Trinidad en die Franse St. Lucia en Tobago het hy sy vat op die Karibiese See in Amerika versterk.
Intussen is Britse gesag vanuit die strafkolonie by Botanybaai (1788) oor die hele Australiese vasteland en die Nieu-Seelandse eilande uitgebrei. 'n Ander gevolg daarvan was die opbouing van Britse politieke belange in die Stille Oseaan vroeg in die neëntiende eeu.