FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950

FIFA Sokker-Wêreldbeker
IV Campeonato Mundial de Futebol – Brasil

Die Jules Rimet-trofee waarom meegeding is
Toernooi-inligting
Gasheerland Vlag van Brasilië Brasilië
Datums 24 Junie – 16 Julie
Spanne 13 (van 3 konfederasies)
Stadions (in 6 stede)
Finale uitslag
Kampioene Vlag van Uruguay Uruguay (2 titels)
Tweede plek Vlag van Brasilië Brasilië
Derde plek Vlag van Swede Swede
Vierde plek Vlag van Spanje Spanje
Toernooi-statistieke
Wedstryde gespeel 22
Doele 88 (4 per wedstryd)
Bywoning 1 043 500 (47 432 per wedstryd)
Meeste punte Vlag van Brasilië Ademir (8 doele)
Beste speler Vlag van Brasilië Zizinho
1938
1954

Die 4de FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Portugees: IV Campeonato Mundial de Futebol – Brasil, [ˈkwaʁtu kɐ̃pjoˈnatu mũdʒiˈaw dʒi ˌfutʃiˈbɔw]; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 24 Junie tot 16 Julie 1950 in Brasilië aangebied. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Brasilië aangebied is en die tweede in Suid-Amerika. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog vyf jaar vroeër, nadat die toernooie van 1942 en 1946 weens die wêreldwye oorlog gekanselleer is. Die vorige FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1938 is 12 jaar vroeër in Frankryk beslis.

13 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950 deelgeneem. Die spanne is in vier groepe verdeel, waarvan die beste span van elke groep na die finale rondte deurgedring het. Brasilië, Spanje, Swede en Uruguay het hul onderskeie groepe gewen en na die finale groep deurgedring. Dit was die enigste toernooi wat nie deur 'n enkele eindwedstryd beslis is nie en die beste span van die finale groepfase het die Jules Rimet-trofee verower. Uruguay wen die trofee nadat hulle Brasilië met 2–1 in die laaste wedstryd klop en sodoende hulle tweede wêreldbeker inpalm. Swede eindig in die derde en Spanje in die vierde plek.

Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omrede hulle nie 'n lid van FIFA was nie. Beide Duitsland en Japan is nie toegelaat om aan die kwalifikasieproses deel te neem nie. Verskeie ander lande soos Hongarye, die Sowjetunie en Tsjeggo-Slowakye wou nie aan die kwalifikasie deelneem nie, terwyl België en Oostenryk in Europa; Burma, Filippyne en Indonesië in Asië; Argentinië, Ecuador en Peru in Suid-Amerika tydens die kwalifikasie onttrek het. Indië, Skotland en Turkye het na hulle suksesvolle kwalifikasies van die toernooi onttrek. Die nasionale sokkerspan van Engeland het vir die eerste keer aan 'n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem, nadat die vier Britse nasionale sokkerbeheerliggame vier jaar vroeër by FIFA heraangesluit het.

Other Languages
العربية: كأس العالم 1950
Bahasa Indonesia: Piala Dunia FIFA 1950
Bahasa Melayu: Piala Dunia FIFA 1950
norsk nynorsk: VM i fotball 1950
srpskohrvatski / српскохрватски: FIFA Svjetsko prvenstvo 1950.
Simple English: 1950 FIFA World Cup
oʻzbekcha/ўзбекча: FIFA Jahon chempionati 1950