Engelse Burgeroorlog

Engelse Burgeroorlog
Deel van Oorlog van die Drie Koninkryke
Battle of Naseby.jpg
Die oorwinning van die afgevaardigde New Model Army oor die koninklike weermag in die Slag van Naseby op 14 Junie 1645 was die beslissende keerpunt in die Engelse Burgeroorlog.
Datum 22 Augustus 16423 September 1651
Ligging Koninkryk van Engeland
Resultaat Parlementêre oorwinning
Strydende partye
Koningsgesindes Parlementariërs
Aanvoerders
Karel I (†)
Ruprecht van die Palts
Karel II
Robert Devereux
Thomas Fairfax
Oliver Cromwell

Die Engelse Burgeroorlog ( Engels: English Civil War; 1642–1651) was 'n reeks gewapende konflikte en politieke twiste tussen die Parlementariërs ("Roundheads" genoem) en Rojaliste ("Cavaliers" genoem) in die Koninkryk van Engeland, wat hoofsaaklik om die regeringsproses gegaan het. In die eerste (1642–1646) en tweede (1648–1649) oorloë was die ondersteuners van koning Karel I en die ondersteuners van die Langparlement met mekaar oorhoeks, terwyl die derde (1649–1651) gevegte tussen die ondersteuners van koning Karel II en ondersteuners van die Rompparlement behels het. Die oorlog is ten einde gebring deur die Parlementêre sege by die Slag van Worcester op 3 September 1651.

Die oorlog het effektief 'n drieledige uitwerking gehad, naamlik: die verhoor en terregstelling van Karel I; die verbanning van sy seun, Karel II; en die vervanging van Engelse monargie met, aanvanklik, die Gemenebes van Engeland (1649–1653) en daarna die Protektoraat (1653–1659) onder Oliver Cromwell se persoonlike bewind. Die monopolie wat die Kerk van Engeland oor Christelike religie in Engeland gehad het is beëindig met die seëvierendes wat die gevestigde Protestantse Voorrang in Ierland gekonsolideer het. Grondwetlik het die oorloë die presedent geskep dat 'n Engelse monarg nie sonder die parlement se inwilliging kan regeer nie, alhoewel hierdie konsep eers as 'n meeloper van die Glorieryke Rewolusie in 1688, van 'n regsbasis verskaf is.

Terminologie

Verloop van die jare 1642–1645: ██ Koningsgesindes ██ Parlementariërs

Soos ook hier gebruik, verskyn die benaming "Engelse Burgeroorlog" meestal in die enkelvoud, alhoewel historici dikwels die konflik onderverdeel in twee of meer onderskeibare oorloë. Terwyl die term gebeure beskryf wat op Engeland 'n impak gehad het, het die konflikte van meet af aan ook oorloë met, en burgeroorloë binne Skotland sowel as Ierland behels.

Anders as burgeroorloë in Engeland, wat uitslag moes lewer oor wie sou regeer, eerder as hoe die nasie regeer sou word, was hierdie oorlog meer gemik op die wyse waarop die koningkryke van Engeland, Skotland en Ierland regeer is. Die 1911-uitgawe van Encyclopædia Britannica het na die reeks konflikte verwys as die "Groot Rebellie", terwyl sekere historici, veral Marxiste soos Christopher Hill (1912–2003) reeds lank die benaming "Engelse Rewolusie" voorgestaan het. [1]

Die koning se bewind

Die Engelse Burgeroorlog het uitgebreek minder as veertig jaar na die dood van koningin Elizabeth I in 1603. Met Elizabeth se oorlye het haar bloedverwant, koning Jakobus VI van Skotland, die Engelse troon bestyg as Jakobus I van Engeland, waardeur die kroon van die twee koninkryke vir die eerste keer verenig is. [lower-alpha 1] As Koning van Skotte, was Jakobus vertroud met Skotland se agtelose parlementêre tradisie sedert hy in 1583 beheer van die Skotse regering aanvaar het, sodat met sy bewindsname suid van die grens, die nuwe Koning van Engeland grondig aanstoot geneem het by die beperkinge wat die Engelse parlement gepoog het om hom op te lê, in ruil vir die voorskiet van geld. Boonop het Jakobus se persoonlike spandabelrigheid meegebring dat hy altoos 'n gebrek aan geld ervaar het, en hom moes wend tot buite-parlementêre inkomstebronne.

Jakobus se persoonlike oordadigheid is beteuel deur sy vreedsame geaardheid, sodat met die suksessie van sy seun Karel I tot die Engelse en Skotse trone in 1625, die twee koninkryke albei in menseheugenis betreklike vrede ervaar het, intern sowel as in hul onderlinge betrekkinge. Karel het gehoop om die koninkryke van Engeland, Skotland en Ierland tot 'n enkele koninkryk te verenig, die verwesentliking van sy vader se droom. [2] Baie Engelse parlementariërs het hul bedenkinge oor so 'n skuif gehad, weens hul vrees dat die stigting van 'n nuwe koninkryk die ou Engelse tradisies kon ondergrawe waarbinne die Engelse monargie dusver geborge was. Aangesien Karel dit eens was met sy vader se siening oor die gesag van die kroon (Jakobus het konings beskryf as "klein godjies op aarde", deur God aangewys om te regeer aan die hand van die doktrine van " goddelike reg"), het die bedenkinge van die parlementariërs wel hul gronde gehad. [3]

Parlement in die Engelse grondwetlike raamwerk

Voor die onenigheid het die Engelse parlement nie 'n omvangryke, permanente rol in die Engelse regeringstelsel vervul nie. Instede het die parlement as 'n tydelike advieskomitee opgetree, en is slegs ontbied as, en wanneer, die monarg dit nodig geag het. Wanneer dit saamgeroep is, het die koning se goeddunke die voortbestaan daarvan bepaal, aangesien hy dit te eniger tyd kon ontbind.

Tog het die parlement ten spyte van hierdie beperkte gesag oor die voorafgaande eeue, wel de facto magte verwerf wat van sodanige belang was dat monarge dit nie onbepaald kon ignoreer nie. Die parlement se mees onvervangbare mag was ongetwyfeld, vir 'n monarg, die vermoë om die kroon toegang te bied tot 'n baie hoër belastinginkomste as wat op enige ander wyse geïn kon word. Teen die sewentiende eeu was die parlement se vermoë om belasting te hef daaraan toe te skryf dat die landadel die enigste stratum van die samelewing was met die vermoë en die gesag om wesentlik die meer sinvolle vorme van plaaslike belastings wat indertyd beskikbaar was, in te gaar en terugbetalings te doen. Indien die koning dan 'n ordelike insameling van inkomste wou verseker, moes hy die landadel se toegeneëntheid hê. Ondanks al die regsgesag van die kroon, selfs teenoor enige moderne standaard, was die hulpbronne daarvan beperk in dié opsig dat by gebrek aan samewerking van die landadel om die koning se belasting op 'n nasionale skaal in te gaar, die kroon oor geen praktiese middele beskik het om dit af te dwing nie.

Gevolglik het monarge, ten einde hul samewerking te verkry, die landadel (en slegs die landadel) vergun om verteenwoordigers aan te wys vir setels in die laerhuis, oftewel House of Commons. Wanneer hulle saam met die hoërhuis of House of Lords vergader was, het hierdie verkose verteenwoordigers 'n parlement gevorm. Parlemente het gevolglik die samekoms van die verteenwoordigers van die landadel gefasiliteer, hoofsaaklik (of minstens uit die monarg se oogpunt) sodat hulle hul goedkeuring kon verskaf vir enige belastings wat die monarg van hul elektoraat verwag het om in te gaar. In die verloop van sake kon die verteenwoordigers ook met mekaar oorleg pleeg en beleidsvoorstelle aan die koning verskaf, in die formaat van wette. Die parlement het nietemin oor geen regsgronde beskik om hul wil op die monarg af te dwing nie; hul enigste houvas op die koning was tewens die potensiële weerhouding van die finansiële middele wat die koning benodig het om sy planne uit te voer. [4]

Parlementêre besware en die Petisie van Reg

Henrietta Maria, geskilder deur Peter Lely, 1660

Baie besware is gelug oor Karel se huwelik met die Rooms-katolieke Franse prinses Henrietta Maria in 1625. Die Parlement het verder geweier om hom die gebruiklike reg op doeaneaksyn vir sy volle bewind te vergun, en het instede besluit om dit tot 'n voorlopige grondslag te beperk en met hom te onderhandel. [5]

Karel het intussen gelas dat 'n ekspedisiemag Franse Hugenote bystaan om die beleg van La Rochelle deur Franse koningstroepe op te hef. Na Karel se aandrang om sy ongewilde koninklike gunsteling George Villiers, die hertog van Buckingham, as bevelvoerder oor die Engelse mag aan te stel, het hy egter daardie welwillendheid verbeur. Ongelukkig vir Karel en Buckingham, het die gepoogde ontsetting van La Rochelle op 'n fiasko uitgeloop (1627), [6] en die Parlement, reeds onthuts oor Buckingham se monopolie op koninklike begunstiging, het 'n staat van beskuldiging teen hom aanhangig gemaak. [7] Karel het gereageer deur die Parlement te ontbind. Alhoewel hierdie skuif die saak vir Buckingham beredder het, het dit die indruk versterk dat Karel die parlement se oorsig oor sy ministers wou systap. [7]

Met die Parlement ontbind en kragteloos om daarsonder befondsing te bekom, het die koning in 1628 'n nuwe een saamgeroep (wat onder meer Oliver Cromwell en Edward Coke as verkose lede ingesluit het). Die nuwe Parlement het die Petisie van Reg opgestel, en Karel het dit aanvaar as 'n toegewing om sy subsidie te verkry. [8] Die Petisie het onder meer na die Magna Carta verwys. [9]

Persoonlike bewind

Vir die volgende dekade het Karel I die sameroeping van 'n parlement vermy, 'n periode wat as die persoonlike bewind van Karel I of die "Elfjarige tirannie" bekend staan. [10] In hierdie periode het Karel se gebrek aan geld sy beleid bepaal. Eerstens moes die koning, om 'n parlement te vermy, ook oorloë verhoed. Karel het vrede gesluit met Frankryk en Spanje, wat effektief England se betrokkenheid by die Dertigjarige Oorlog beëindig het. Opsigself was dit egter geensins voldoende om die koning se boeke te laat klop nie.

Weereens was hy nie by magte om befondsing te organiseer nie, en in sy onwilligheid om die parlement saam te roep, het hy hom tot ander middele gewend. Een metode was om sekere vergete en verouderde gebruike weer in die lewe te roep. Byvoorbeeld was afwesigheid by die toekenning van ridderskap by Karel se kroning 'n beboetbare oortreding, en die boete het die kroon toegeval. Die koning het ook probeer om skeepsgeld-belasting te hef, deur in 1635 munt te slaan uit 'n dreigende maritieme oorlog, en te eis dat die binnelandse Engelse counties hierdie belasting aan die koninklike vloot betaal. Bestaande wette het hierdie praktyk geregverdig, maar owerhede het dit eeue lank geïgnoreer, en baie het dit beskou as net nog 'n buite-parlementêre (en gevolglik onwettige) belasting. [11] Sekere vooraanstaande manne het geweier om skeepsgeld te betaal en aangevoer dat dit onwettig is, maar het egter hul saak in die hof verloor. Die boetes wat hulle opgelê is vir hul weiering om te skeepsgeld betaal (en vir hul standpunt teen die legitimiteit daarvan) het wye verontwaardiging ontlok. [11]

Tydens die "persoonlike bewind" het Karel homself die meeste gramskap op die hals gehaal deur sy godsdienstige maatreëls: hy het geglo aan Hoë Anglikanisme, 'n sakramentele weergawe van die Kerk van Engeland, met 'n teologie wat op Arminianisme gesteun het. Hierdie credo het hy met sy vernaamste politieke raadgewer, aartsbiskop William Laud gedeel, [12] wat hy in 1633 aangestel het as aartsbiskop van Kantelberg, en wat begin het om die Kerk meer seremonieel te orden deur die houtnagmaaltafels met klipaltare te vervang. [13] Puriteine het Laud beskuldig dat hy Katolisisme weer invoer, en wanneer hulle gekla het, het hy hulle laat arresteer. In 1637 is die ore van John Bastwick, Henry Burton (die Puritein), en William Prynne afgesny nadat hulle pamflette geskryf het waarin Laud se sienings aangeval is — 'n seldsame straf vir gentlemen, en een wat ergernis meegebring het. [14] Verder het die Kerkowerhede weer die statute uit die tyd van Elizabeth I rakende kerkbywoning in die lewe geroep, en Puriteine is beboet vir afwesigheid by Anglikaanse kerkdienste. [15]

Other Languages
беларуская (тарашкевіца)‎: Ангельская рэвалюцыя
Bahasa Indonesia: Perang Saudara Inggris
Lëtzebuergesch: Englesch Revolutioun
Bahasa Melayu: Perang Saudara England
Plattdüütsch: Ingelsche Börgerkrieg
srpskohrvatski / српскохрватски: Engleski građanski rat
Simple English: English Civil War
татарча/tatarça: Инглиз инкыйлабы
Tiếng Việt: Nội chiến Anh
中文: 英國內戰
Bân-lâm-gú: Eng-lân Lōe-chiàn