Downtown Los Angeles

Spaanse koloniale boukuns het in die historiese hart van Los Angeles, El Pueblo de Los Angeles, geleë net noord van die moderne middestad, bewaar gebly. Die foto wys Pico House in Olvera Street
Die Katedraal van Onse Dame van die Engele maak van Downtown 'n spirituele middelpunt vir Los Angeles se Rooms-Katolieke bevolking. Die katedraal is 'n moderne huldeblyk aan brutalistiese argitektuur en 'n uitstekende voorbeeld vir sy toepassing op godsdienstige geboue

Downtown Los Angeles is die historiese stadskern en sentrale besigheidsdistrik (SBD) van Los Angeles, Kalifornië wat meer as 500 000 werkgeleenthede vir pendelaars bied, maar ook 'n verskeidenheid residensiële buurte behels wat 'n groeiende bevolking van sowat 65 000 huisves. Dit maak deel uit van Central Los Angeles, een van die streke waarin die administratiewe distrik Los Angeles County onderverdeel word.

Die stadskern het sy oorsprong in die Spaanse koloniale nedersetting wat hier in 1781 gevestig is en in die volgende twee eeue verskillende ontwikkelingsfases deurloop het. Nog in die vroeë 20ste eeu het banke, afdelingswinkels en rolprentteaters groot getalle inwoners van Los Angeles en besoekers na die gebied gelok. Demografiese veranderings en die gepaardgaande hervestiging van stadsbewoners in uitgestrekte voorstede het die ekonomiese agteruitgang van die middestad tot gevolg gehad - 'n proses wat baie dekades lank voortgeduur het voordat Downtown Los Angeles in die eerste dekade van die 21ste eeu 'n merkwaardige herlewing ervaar het. Tussen 1999 en 2015 is sowat $24 miljard in nuwe bouprojekte belê, waaronder kantoorgeboue en luukse woonsteltorings.[1] Volgens die webtuiste Los Angeles Downtown News was daar in Maart 2018 altesaam 109 projekte in aanbou of in die beplanningsfase.[2]

Terwyl nuwe wolkekrabbers ontstaan het, is bestaande historiese geboue gerenoveer vir nuwe gebruike en het kulturele projekte nuwe lewe in die middestad ingeblaas. Vandag is Downtown die spilpunt vir Metro, Los Angeles se moderne openbare vervoerstelsel.

Stadsbeeld en boukuns

Soms word na Los Angeles skertsend verwys as "'n klomp voorstede op soek na 'n stad" - 'n sinspeling op die beweerde gebrek aan 'n tradisionele middestad. Nogtans bestaan dit en het groot dele daarvan bewaar gebly - in teenstelling met ander groot Amerikaanse metropole was daar in Los Angeles min topografiese beperkings (soos in Manhattan wat op 'n eiland geleë is of in Philadelphia wat tussen twee riviere ontstaan het) sodat stadsbeplanners die beboude gebied in westelike rigting kon uitbrei en nie genoodsaak was om ouer strukture te sloop nie.

Toe die stad in die vroeë 20ste eeu vir die eerste keer oor die grense van die oorspronklike nedersetting heen begin uitbrei het, is nuwe projekte noukeurig beplan. In 'n suidelike rigting het onder meer nuwe bankgeboue langs Spring Street, sakegeboue langs Main Street en teaters langs Broadway ontstaan. Omstreeks 1915 het verdere uitbreidings langs 7th Street plaasgevind, en slegs vyf jaar later was Los Angeles se middestad die spilpunt vir 'n netwerk van munisipale en privaat trems en spoorweë wat met 'n totale lengte van meer as 1 000 myl vier omliggende distrikte (counties) ontsluit het.

Om seker te maak dat inwoners Suid-Kalifornië se befaamde sonskyn ook op sypaadjies in die middestad kon geniet, het Los Angeles se stadsraad nog in die eerste dekade van die 20ste eeu 'n hoogtebeperking van 150 voet op wolkekrabbers geplaas. Geboue langs Spring en Main Street het, wat hul hoogtes betref, dus 'n eenvormige voorkoms gehad. Toe die beperking 'n halfeeu later opgehef is, het ontwikkelaars nuwe projekte liewer in 'n weswaartse rigting na Flower, Hope en Figueroa Street verskuif as om bestaande geboue te sloop. Hier het merkbaar hoër wolkekrabbers verrys.

Other Languages