Bagel

'n Gewone bagel

Die term bagel (afgelei van die Jiddisje בײגל beygl) verwys na 'n soort rolletjie wat tradisioneel van gegiste deeg gemaak en in die vorm van 'n kring gebak word, nadat dit vooraf in water gekook is. Die gebak is sag en het gewoonlik 'n bros goudbruin kors. Bagels word dikwels met papawer of sesamsaad bestrooi.

Veral in Kanadese en Amerikaanse stede met groot Joodse gemeenskappe soos Montreal en New York Stad het bagels die belangrikste soort brood geword - dié twee stede het ook lankal hul eie plaaslike bagel-variant ontwikkel. Vermoedelik is bagels al omtrent 1610 deur 'n Joodse bakker in Kraków ( Pole) uitgevind en later deur Joodse immigrante na Kanada en die Verenigde State gebring. Bagels is aanvanklik net in plaaslike bakkerye aangebied, maar nadat die eerste bagel-bakkers hulle produkte as bevrore bagels in supermarkte aangebied het, het hierdie broodjies vinnig dwarsoor die VSA en Kanada en later ook in oorsese lande gewild geraak. Die oorspronklike bagels is daarnaas nog steeds baie gewild in lande soos Pole en Litaue.

Bestanddele

Die bestanddele van bagels varieer volgens die bakkers se verskillende resepte en naas kommersiële bagels, wat in bakkerye of bevrore in supermarkte aangebied word, is daar ook 'n groot aantal resepte vir tuisgebakte bagels, wat ook maklik in broodbakmasjiene gebak kan word. Die hoofbestanddele is egter steeds dieselfde: water, sout, meelblom en gis. Water word benodig om die droë gis te versag en vogtigheid by die deeg te voeg. Sout verhoed dat die gisdeeg te sterk rys.

Deesdae word 'n groot verskeidenheid geure by bagels gevoeg, waaronder bloubessies, esdoringstroop, okkerneute, sjokolade, kaneel en rosyntjies, spinasie en kaas, gedroogde tamaties en kruie, en jalapeños.

Other Languages
Alemannisch: Bagel
Ænglisc: Bēagel
العربية: بايغل
azərbaycanca: Bagel
Boarisch: Beigl
català: Bagel
čeština: Bagel
dansk: Bagel
Deutsch: Bagel
English: Bagel
Esperanto: Bagelo
español: Bagel
فارسی: بیگل
français: Bagel
arpetan: Baguèl
galego: Bagel
עברית: כעך
Bahasa Indonesia: Bagel
íslenska: Beygla
italiano: Bagel
日本語: ベーグル
한국어: 베이글
lietuvių: Didriestainis
Bahasa Melayu: Bagel
Nederlands: Bagel
norsk: Bagel
polski: Bajgiel
português: Bagel
română: Bagel
русский: Бейгл
Simple English: Bagel
svenska: Bagel
Tagalog: Beygel
Türkçe: Bagel
українська: Бейгл
中文: 貝果
粵語: 比高包