Abstrakte kuns

Wassily Kandinsky, Kandinsky se eerste abstrakte waterverfskildery, 1910.

Abstrakte kuns gebruik 'n visuele taal van vorm, kleur en lyn om 'n komposisie te skep wat met 'n mate van onafhanklikheid van visuele verwysings in die wêreld bestaan.[1]

Abstraksie dui op 'n afwyking van realisme in die uitbeelding van voorwerpe in kuns. Hierdie afwyking kan gering, gedeeltelik of volledig wees.

Voorbeelde van die talle kunsbewegings wat gedeeltelike abstraksie beliggaam, is fauvisme waar kleur opvallend en doelbewus teenoor die werklikheid gestel word, en kubisme waar die vorms van werklike entiteite op blatante wyse verander word.[2][3]

Geskiedenis

Abstraksie in vroeë kuns en baie kulture

Baie van die kuns van vroeë kulture – simbole op erdewerk, materiale, en graverings en skilderye op rots – was eenvoudige, geometriese en lineêre vorms wat moontlik 'n simboliese of dekoratiewe doel gedien het.[4] Die skoonheid van Chinese of Islamitiese kalligrafie kan geniet word sonder dat dit noodwendig gelees en verstaan kan word.[5]

19de eeu

James McNeill Whistler, Nocturne in Black and Gold: The Falling Rocket (1874), Detroit Institute of Arts. 'n Gedeeltelike abstraksie. In 1877 het Whistler die kunskritikus John Ruskin weens laster gedagvaar nadat die kritikus hierdie skildery skerp afgekeur het. Ruskin het Whistler daarvan beskuldig dat hy tweehonderd ghienies wou hê vir 'n pot verf wat hy in die publiek se gesig gegooi het.[6][7]

Vroeë aanduidings van 'n nuwe kunsrigting kon in James McNeill Whistler se kuns gesien word. Sy skildery Nocturne in Black and Gold: The falling Rocket, (1872), het groter klem op visuele sensasie as op die uitbeelding van die realiteit geplaas. 'n Objektiewe belangstelling in wat gesien word, kan in die skilderye van John Constable, J M W Turner, Camille Corot onderskei word. Paul Cézanne het as 'n Impressionis begin maar sy doelwit – om 'n logiese konstruksie van die realiteit te maak,[8] met gemoduleerde kleur in plat areas – het die basis van 'n nuwe visuele kuns geword wat later deur Georges Braque and Pablo Picasso in Kubisme ontwikkel is.

Ekspressionistiese skilders het die onbeskaamde gebruik van intense kleur en van skilderoppervlakke ondersoek deur van vervormings en oordrywings gebruik te maak. Hulle het emosioneel gelade skilderye geskep. Ekspressioniste het die beklemtoning van inhoud drasties ten gunste van die uitbeelding van sielkundige stemming verander.

Daarbenewens het mistisisme en vroeë modernistiese godsdienstige filosofie in die laat 19de eeu in Oos-Europa 'n groot impak op die eerste geometriese kunstenaars soos Wassily Kandinsky en Hilma af Klint gehad. Die mistiese leerstellings van Georges Gurdjieff en P.D. Ouspensky het ook 'n belangrike invloed op die vorming van die geometriese abstrakte style van Piet Mondrian en sy kollegas in die vroeë 20ste eeu gehad.[9]

20ste eeu

Postimpressionisme, soos beoefen deur Paul Gauguin, Georges Seurat, Vincent van Gogh en Paul Cézanne, het 'n reuse impak op 20ste-eeuse kuns gehad en tot die opkoms van 20ste-eeuse abstraksie gelei. Die nalatenskap van skilders soos Van Gogh, Cézanne, Gauguin en Seurat was noodsaaklik vir die ontwikkeling van moderne kuns. Aan die begin van die 20ste eeu het kunstenaars soos Henri Matisse en verskeie ander jong kunstenaars die Paryse kunswêreld gerevolusioneer met "wilde", veelkleurige, ekspressiewe landskappe en figuurskilderye wat kritici Fauvisme genoem het. Met sy ekspressiewe kleurgebruik en sy vrye en verbeeldingryke tekeninge het Henri Matisse in werke soos Die Geel Gordyn in 1915 baie na aan suiwer abstraksie gekom. Die rou taal van kleur wat deur die Fauves ontwikkel is, het 'n direkte invloed op nog 'n pionier van abstraksie, Wassily Kandinsky, gehad (sien illustrasie).

Alhoewel Kubisme op die ou end op inhoud berus, het dit, saam met Fauvisme, die kunsbeweging geword wat die deur vir abstraksie in die 20ste eeu oopgemaak het. Pablo Picasso se eerste Kubistiese skilderye was gebaseer op Cézanne se idees dat alle voorstellings van die natuur tot drie soliedes gereduseer kan word: die kubus, sfeer en keël. Analitiese kubisme is gesamentlik deur Pablo Picasso en Georges Braque ontwikkel, van ongeveer 1908 tot en met 1912. Analitiese kubisme, die eerste duidelike manifestasie van kubisme, is deur Sintetiese kubisme gevolg. Laasgenoemde is deur die gebruik van verskillende teksture, oppervlakke, collage-elemente, papier collé en 'n verskeidenheid van saamgesmelte onderwerpe gekenmerk. Collage-kunstenaars soos Kurt Schwitters en Man Ray en ander wat hulle deur die idees van Kubisme laat lei het, was sleutelfigure in die ontwikkeling van die beweging Dada.

Robert Delaunay, 1912, Windows Open Simultaneously (Eerste deel, derde motief), olie op doek, 45.7 x 37.5 cm, Tate Modern

Gedurende die 1912 Salon de la Section d'Or het die digter Guillaume Apollinaire die werke van verskeie kunstenaars, insluitend Robert en Sonia Delaunay, Orfisme genoem.[10] Hy het dit soos volg gedefinieer: die skilder van nuwe strukture uit elemente wat nie uit die visuele sfeer geleen is nie, maar alleenlik deur die kunstenaar geskep is... dit is 'n suiwer kuns.[11]

Van 1909 tot 1913 is baie eksperimentele werke in die soeke na hierdie "suiwer kuns" geskep: Francis Picabia,[12][13][14] [15] Wassily Kandinsky,[16][17] František Kupka,[18] Robert Delaunay,[19] Léopold Survage[20] en Piet Mondrian was onder hierdie kunstenaars.[21]

Die soektog het voortgeduur: Die  Rayonistiese tekeninge van Natalia Goncharova en Mikhail Larionov het lyne soos ligstrale gebruik om konstruksies te skep. Piet Mondrian se abstrakte taal van horisontale en vertikale lyne met vierkante kleur het ontwikkel. Tussen 1915 en 1919 was Neoplastisisme die beweging waarmee Mondrian, Theo van Doesburg en ander kunstenaars in die  De Stijl-groep van plan was om die omgewing van die toekoms te hervorm.

Russiese avant-garde

Kazimir Malevich, Swart Vierkant, 1923, Die Russiese Museum

Baie van die abstrakte kunstenaars in Rusland het Konstruktivisme aangehang en geglo dat kuns nie meer iets verwyderd was nie, maar die lewe self. Die kunstenaar moet 'n tegnikus word en leer hoe om die gereedskap en materiale van moderne vervaardiging te gebruik. Aan die ander kant was daar Kazimir Malevich, Anton Pevsner en Naum Gabo. Hulle het geredeneer dat kuns in wese 'n geestelike aktiwiteit was; om die individu se plek in die wêreld te skep, nie om die lewe in 'n praktiese, materialistiese sin te organiseer nie. Baie kunstenaars wat teen die idee van materialistiese produksie gekant was, het Rusland verlaat. Kandinsky het in Moskou studeer en later by die Bauhaus aangesluit. Teen die middel 1920's was die revolusionêre tydperk (1917 tot 1921) waartydens kunstenaars na willekeur kon eksperimenteer, verby; en teen die 1930's is slegs sosialisties realisme toegelaat.[22]

Die Bauhaus

Die Bauhaus in Weimar, Duitsland is in 1919 deur Walter Gropius gestig.[23] Die onderliggende filosofie van die opleidingsprogram was eenheid van al die beeldende en plastiese kunste, van argitektuur en skilder tot weefwerk en gebrandskilderde glas. Toe die Nazi-party in 1932 aan bewind kom, is Die Bauhaus gesluit. In 1937 het die uittog begin: nie net uit die Bauhuis nie, maar uit Europa oor die algemeen.

Abstraksie in Parys en Londen

Gedurende die 1930's het Parys die tuiste van kunstenaars van Rusland, Duitsland, die Nederlande en ander Europese lande geword wat deur die opkoms van totalitarisme geraak is. By 'n uitstalling deur ses-en-veertig lede van die Cercle et Carré-groep wat deur Joaquin Torres-Garcia[24] georganiseer is, is die werke van Neoplastisiste sowel as Abstraksioniste so uiteenlopend soos Kandinsky, Anton Pevsner and Kurt Schwitters ten toon gestel. Theo van Doesburg, wat die versameling as té vaag gekritiseer het, het die tydskrif Art Concret gepubliseer waarin hy 'n manifes geskryf het wat 'n abstrakte kuns definieer waarin lyn, kleur en oppervlak die enigste konkrete realiteit is.[25] Namate die politieke situasie in 1935 versleg het, het kunstenaars hulle weer gaan hervestig, baie in Londen. Die eerste uitstalling van Britse abstrakte kuns is in 1935 in Engeland gehou.

Amerika: mid-20ste eeu

"Composition No. 10", 1939–42, olie op doek deur Mondrian

Teen die vroeë 1940's is die vernaamste bewegings in moderne kuns, ekspressionisme, kubisme, abstraksie, surrealisme en dada in New York verteenwoordig: Marcel Duchamp, Fernand Léger, Piet Mondrian, Jacques Lipchitz, André Masson, Max Ernst en André Breton was maar enkele van die uitgeweke Europeërs wat hulle in New York gevestig het.[26] Plaaslike New-Yorkse skilders het voortgebou op die ryk kulturele invloede wat saam met die Europese kunstenaars gekom het. In die klimaat van vryheid in New York kon al hierdie invloede floreer. Kunsgalerye het die plaaslike kunsgemeenskap en die werk van jonger Amerikaanse kunstenaars begin raaksien. Sekere kunstenaars het in hierdie tyd opvallend abstrak in hulle volwasse werke geword.

Die bekendste groep Amerikaanse kunstenaars het as die Abstrakte ekspressioniste en die New York School bekend gestaan. Die ekspressionistiese gebaar en die skilderdaad self het van primêre belang vir Jackson Pollock, Robert Motherwell, en Franz Kline geword. Teen die einde van die 1940's was New York die middelpunt van abstrakte kuns, en kunstenaars van regoor die wêreld het daarheen beweeg, ook van ander plekke in Amerika.[27]

Other Languages
العربية: فن تجريدي
asturianu: Arte astracto
azərbaycanca: Abstraksionizm
беларуская: Абстракцыянізм
беларуская (тарашкевіца)‎: Абстракцыянізм
български: Абстракционизъм
català: Art abstracte
English: Abstract art
Esperanto: Abstraktismo
español: Arte abstracto
français: Art abstrait
Bahasa Indonesia: Seni abstrak
íslenska: Abstraktlist
italiano: Astrattismo
日本語: 抽象絵画
Basa Jawa: Seni abstrak
lietuvių: Abstrakcionizmas
latviešu: Abstrakcionisms
മലയാളം: അമൂർത്തകല
Nederlands: Abstracte kunst
norsk nynorsk: Abstrakt kunst
ਪੰਜਾਬੀ: ਅਮੂਰਤ ਕਲਾ
Piemontèis: Art astrata
português: Arte abstrata
română: Arta abstractă
سنڌي: تجريديت
srpskohrvatski / српскохрватски: Apstraktna umjetnost
Simple English: Abstract art
slovenčina: Abstraktné umenie
slovenščina: Abstraktna umetnost
తెలుగు: నైరూప్య కళ
Türkçe: Soyut sanat
українська: Абстракціонізм
oʻzbekcha/ўзбекча: Abstraksionizm (oqim)
中文: 抽象藝術