Aardverwarming

'n Kleurbeeld van die Aarde soos gesien vanaf Apollo 17.
Samestelling van die Aarde se atmosfeer
Stikstof78,084%
Suurstof20,946%
Argon0,934%
Koolstofdioksied0,038%
Waterdamp>1%
Ander0,002%

Aardverwarming (die Engelse term global warming, globale verwarming, word ook dikwels gebruik) is 'n term wat die styging van die gemiddelde temperatuur van die aarde se atmosfeer en oseane beskryf. Sedert die begin van die twintigste eeu het die gemiddelde temperatuur met ongeveer 0,74 °C gestyg.[1] Die algemene wetenskaplike konsensus is dat hierdie styging in temperatuur deur die versterking van die kweekhuiseffek veroorsaak word.[2][3] Die kweekhuiseffek word weer op sy beurt hoofsaaklik bevorder deur die mensveroorsaakte toename van koolstofdioksied (CO2) en ander kweekhuisgasse soos metaan en dryfgasse. Daar word voorspel dat die temperature tussen 1990 en 2100 met 1,4 °C tot 5,8 °C kan styg.[4] Dit sal groot sigbare veranderinge vir die mensdom en die omgewing inhou. Aardverwarming is 'n internasionale omgewingskwessie wat mense wêreldwyd raak. Aardverwarming is die gevolg van die opbou van gasse soos koolsuurgas en metaan in die atmosfeer wat die uitstraling van die aarde se hitte vasvang en die effek van 'n kweekhuis meebring waar die hitte kan inkom, maar nie so maklik ontsnap nie. Dit is veral verbranding van steenkool, ru-olie en petrol in kragstasies, fabrieke en motors wat bydra tot hierdie opbou van gasse in die atmosfeer.

'n Versameling van ondersoeke aangaande aardverwarming word in die verslag van die Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC) saamgevat. Die paneel is deur die Verenigde Nasies ingestel om die huidige wetenskaplike, tegniese en sosiaal-ekonomiese kennis aangaande aardverwarming te dokumenteer en 'n oorsig daaroor voor te lê.

Volgens die AR4 (2007 se Vierde Assesseringsverslag van die Intergovernmental Panel on Climate Change) sal aardverwarming en sy gevolge van streek tot streek oor die wêreld heen verskil.[5] Die uitwerking van 'n stygende wêreldtemperatuur sluit in: seevlakstyging, verandering in neerslaghoeveelheid en –patroon, sowel as 'n waarskynlike uitbreiding van subtropiese woestyne.[6] Die uitwerking van aardverwarming sal na verwagting die ergste beleef word in die Arktiese gebied, waar gletsers, ysgrond en see-ys voortdurend sal bly smelt en wegkalwe. Ander waarskynlike uitwerkings van aardverwarming is die toenemende voorkoms van ekstreme weerstoestande soos hittegolwe, droogtes en swaar reënneerslag, oseaanversuring en die uitsterwing van spesies as gevolg van verskuiwende gemiddelde temperatuurveranderinge. Probleme wat die mens kan ondervind, is verswakte voedselsekerheid weens misoeste en habitatsverlies deur oorstroming.[7]

Voorgestelde beleide om aardverwarming die hoof te bied, sluit uitlaatgasvermindering in, aanpassing by die nawerking van aardverwarming en moontlike toekomstige geo-ingenieurswese. Die meeste lande is lede van die VN-raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering (UNFCCC),[8] wat as liggaam probeer om gevaarlike mensgemaakte klimaatsverandering te voorkom.[9] Die lede van die UNFCCC het 'n verskeidenheid beleide aanvaar om kweekhuisgasse te verminder [10][11][12][13] en om aanpassing by die uitwerking van aardverwarming te steun.[10][13][14][15] Die lede van die UNFCCC het saamgestem dat uitlaatgasse aansienlik verminder moet word [16] en dat toekomstige aardverwarming onder 2,0 °C (3,6 °F) gehou moet word, met betrekking tot die voorindustriële vlak.[16] Verslae wat in 2011 deur die Verenigde Nasies-omgewingsprogram (UNEP) [17] en die Internasionale Energieagentskap [18] beweer dat pogings om uitlaatgasse aan die begin van die 21ste eeu te verminder moontlik nie genoeg kan wees om die UNFCCC se 2 °C-doelwit te bereik nie.

Opgemerkte temperatuurveranderinge

Die see se hittekapasiteit is veel hoër as enige ander energiebergplek in die aarde se hittebalans oor die twee periodes van 1961 tot 2003 en 1993 tot 2003, wat meer as 90% van die moontlike toename van die aarde se hittekapasiteit uitmaak.[19]
refer to caption and adjacent text
Twee millennia se gemiddelde oppervlaktemperature volgens verskillende rekonstruksies uit klimaatskattings, elkeen op 'n dekadeskaal, met die instrumentele temperatuurrekord in swart.

Die aarde se gemiddelde oppervlaktemperatuur het tussen 1906 en 2005 met 0,74 ± 0,18 °C gestyg. Die verhittingskoers oor die eindhelfte van daardie tydperk is amper dubbel soveel as die geheel (0,13 ± 0,03 °C per dekade teenoor 0,07 ± 0,02 °C per dekade). Die uitwerking van die stedelike hitte-eiland is maar baie klein; daar word bereken dat dit minder as 0,002 °C van aardverwarming per dekade sedert 1900 beslaan.[20] Volgens satelliettemperatuurmetings het temperature in die laer troposfeer sedert 1979 met tussen 0,13 en 0,22 °C per dekade toegeneem. Klimaatskattings toon dat die wêreldtemperatuur redelik bestendig oor die een- of tweeduisend jaar voor 1850 gebly het, met streekstemperatuurskommelings soos in die Middeleeuse Warm Periode en Klein Ystydperk.[21]

Die verwarming wat blyk uit instrumentele temperatuurrekords strook met die wyer reeks waarnemings wat deur baie onafhanklike groepe wetenskaplikes gemaak is.[22] Voorbeelde is seevlakstyging (water sit uit soos dit warmer word),[23] wydverspreide sneeu- of yssmelting,[24] verhoogde hittekapasiteit van die oseane,[22] verhoogde vogtigheidsvlakke [22] en die vervroegde lentetyd,[25] byvoorbeeld blomtyd.[26] Die kans dat hierdie gebeurtenisse spontaan kan gebeur, is feitlik nul.[22]

Onlangse skattings deur NASA se Goddard-instituut vir Ruimtenavorsing en die Nasionale Klimaatdatasentrum toon dat 2005 en 2010 die planeet se warmste jare was sedert betroubare, wydverspreide instrumentmetings in die laat-19de eeu beskikbaar geword het. Dit oortref 1998 met 'n paar honderdstes van 'n graad.[27][28][29]

Skattings deur die Klimaatnavorsingseenheid toon egter dat 2005 die tweede warmste jaar is, met 1998 in die eerste plek en 2003 en 2010 gesamentlik in die derde plek, hoewel “die skattingsfout vir individuele jare...ten minste tien maal groter as die verskille tussen hierdie drie jare is.” [30] Die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) se verklaring oor die status van die wêreldklimaat in 2010 verduidelik dat “die 2010 nominale waarde van +0,53 °C net bokant dié van 2005 (+0,52 °C) en 1998 (+0,51 °C) is, hoewel die verskille tussen die drie jare nie statisties beduidend groot is nie”.[31]

In 1998 was temperature buitengewoon warm weens wêreldtemperature wat deur die El Niño-Suidelike Ossillasie (ENSO) beïnvloed is. Die sterkste El Niño van die afgelope eeu het daardie jaar plaasgevind.[32]

Daar word ook navorsing na die geskiedenis van die aarde se klimaat gedoen, byvoorbeeld op Antarktika. In die vroeë tot midde-Mioseen het Antarktika se yslaag partykeer uitgebrei en gekrimp. Die kleinste yslaag het toendraplantegroei tot 80 km van die kus moontlik gemaak en dit het ook ooreengekom met hoë koolstofdioksiedvlakke in die atmosfeer (>500 ppm). Die laagste vlakke (<280 ppm) het saamgegaan met die grootste uitbreiding van die yslaag tot in die oseaan.[33]

Other Languages
Alemannisch: Globale Erwärmung
azərbaycanca: Qlobal istiləşmə
башҡортса: Глобаль йылыныу
Boarisch: Eadaweamung
беларуская (тарашкевіца)‎: Глябальнае пацяпленьне
Nordfriisk: Globaal apwarmin
Fiji Hindi: Global warming
Kreyòl ayisyen: Rechofman atmosferik
interlingua: Calefaction global
Bahasa Indonesia: Pemanasan global
íslenska: Heimshlýnun
日本語: 地球温暖化
Basa Jawa: Pamanasan global
한국어: 지구 온난화
Lëtzebuergesch: Global Erwiermung
മലയാളം: ആഗോളതാപനം
Bahasa Melayu: Pemanasan global
norsk nynorsk: Global oppvarming
Oromoo: Ho'a Adunya
ਪੰਜਾਬੀ: ਆਲਮੀ ਤਪਸ਼
português: Aquecimento global
srpskohrvatski / српскохрватски: Globalno zatopljenje
Simple English: Global warming
slovenščina: Globalno segrevanje
Basa Sunda: Jagat nyongkab
татарча/tatarça: Глобаль җылыну
vepsän kel’: Globaline lämšund
Tiếng Việt: Ấm lên toàn cầu
吴语: 全球暖化
中文: 全球变暖
文言: 天地日暖
粵語: 全球變暖